Tuesday, December 11, 2007

Uithang By die Hangklip


 

Dit is skuins na half twaalf die Sondagoggend by die Foolish Moon trance party by die Hangklip Hotel. Ek is moeg, gatvol en wil huistoe gaan en Anna, wat noodwendig moet terugbestuur, weet nie waar haar karsleutels of die res van haar brein is nie.


 

Anna sit op 'n graspol onder 'n melkhoutboom met haar voete in die sand en twintig tree regs van ons skoffel 'n menigte sterk jongelinge in die sand op die maat van die meedoënlose trance ritme. Anna lyk of sy reg is om koers te kry, maar haar ware gemoedstoestand word vinnig geopenbaar toe ek seker maak of sy al haar goedjies bymekaar het.

"Waar's my karsleutels?" vra sy in 'n dowwe kleindogtertjie stem. "Het jy my karsleutels gesien?"

"Waar het jy hulle laas gesien?"

"Ek weet nie. Ek het hulle verloor. Hulle is weg."

Anna krap in haar handsak rond. Dis haar derde poging en steeds is dit nutteloos. Ek vat die sak en vroetel ook daarin, maar kan geen bos sleutels voel nie. Anna se sleutelring hou haar kar- en huissleutels en daar is 'n etniese kraleborduursel om die hele spul maklik identifiseerbaar te maak. Die tipe voorwerp wat 'n mens binne sekondes behoort raak te tas, selfs in die mees chaotiese handsak. Daar is definitief geen bos sleutels in hierdie handsak nie. Ek het skielik nare visioene van vreemde mense nader vir 'n geleentheid terug Kaapstad- toe, boonop met 'n dwalende vrou op tou.

"Kan jy nie onthou waar jy hulle laas gesien het nie?"

"Nee."

Dis behulpsaam. Die liggies in Anna se oë flikker soos kerse wat tot op die laagste deel van die pit afgebrand het. In hierdie geval sal die ligte uitgaan en niemand sal tuis wees nie.

"Het jy al vir Tommie en Corné gaan groet?" vra ek.

"Ja, ek dink so. Netnou al. 'n Rukkie terug," sê sy asof dit gister of eergister was.

"Wag net hier. Ek is nou terug," sê ek. "Ek gaan by hul tent kyk."

Op pad na die tent hou ek my duime so styf vas dat ek bang is ek die bloedsomloop totaal gaan afsny.

Tommie en sy vriend Gys lê op die grondseil buite die tent. Ricky is diep binne in die agterste hoek van die tent in 'n bondeltjie opgekrul. Corné is nie sigbaar nie.

"Ons is op pad," sê ek. "Het julle Anna se karsleutels gesien?"

Hulle het nie. My hart klop intens stadig en pynlik. Sou ek die huilerige, paniekerige tipe wees, sou nou 'n goeie tyd wees om te paniekbevange te huil. Ek gooi 'n oog oor die omgewing buite om die tent. Die Coleman verkoelers, die strandstoele, die handdoeke wat oor die tent gedrapeer is, leë 2 liter Coca Cola bottels, 'n bofbalpet, een sandaal. Ha! Wat se puntjie steek uit agter die een koelsak? Ek stap nader, buk en tot my uiters groot verligting sien ek die bos sleutels.

"Het dit," sê ek. "Cheers ouens, dankie vir die gasvryheid."

Om die sleutels in my hand te hê is 'n stryd net halfpad gewonne. Ek twyfel of Anna in 'n toestand sal wees om te kan bestuur. Ek het lanklaas 'n kar verder as 'n kilometer bestuur, maar ek reken dat met 'n bietjie angs en spanning ek ten minste tot by Gordonsbaai kan ry en dat Anna teen daardie tyd genoegsaam sou herstel het om verder te bestuur.

Anna deel nie juis my vreugde oor die vind van haar karsleutels nie. Anna is klaarblyklik glad nie meer heeltemal compos mentis nie. Ek begin aanstryk na die uitgang en maak die fout om te dink dat Anna op haar eie sal regkom. Sy weet ons is op pad uit, sy weet sy moet my volg, maar vir 'n onverklaarbare rede maak sy 'n draai na regs en stap na die kos tente. Ek is al by die hek voor ek agterkom dat sy nie agter my is nie en gelukkig sien ek haar in die verte voordat sy om 'n hoek verdwyn.

Ek hardloop agter haar aan.

"O daar's jy," sê Anna. "Ek het na jou gesoek. Ons moet huistoe gaan."

Ek vat Anna vas aan haar boarm en neem haar terug na die korrekte uitgang en tot by haar wit Uno.

"Sal ek bestuur?" bied ek aan.

"Nee, dis orraait, dis okay as ek eers agter die stuur sit. Ek sal ek regkom," sê Anna met meer vasberadenheid as begrip vir haar toestand.

Beide van ons het twee en 'n halwe E's geneem sedert die vorige aand, maar tussen my tweede E en die laaste half pil het ek ten minste 'n koue vegetariese kerrie pitabrood gehad terwyl Anna se maag leeg gebly het. Sy's 'n klein vrou en ek skat haar metabolisme kon nie daai laaste strooihalm hanteer nie, nie op 'n maag vol bier en Coca Cola nie.

Omdat ek nie vir haar wil ontstel deur my gebrek aan vertroue in haar bestuursvermoë te laat blyk nie, gee ek haar die sleutels en ons klim in.

"Gee my net 'n minuut," sê Anna.

Dit word tien minute voordat sy 'n greep op haar hand-oog ko-ordinasie en motorfunksies kan verkry, die kar aanskakel en stadig en versigtig die parkeerterrein verlaat en op die grondpad koers kies terug na die hoofpad. My onhoorbare sug van verligting is iets yslik en my ongeuiterde dankgebed skiet reguit boontoe.

Die hele avontuur het die vorige Vrydagaand begin toe ek en my semi-belangstelling Jen by die Harbour Tavern in Kalkbaai ingeval het vir 'n dop. Ons het eers in die relatiewe stilte van die agterste vertrek gesit totdat ons mymeringe versteur is deur 'n jong man en sy dame wat hulself op twee kroegstoeltjies in 'n hoek tuisgemaak het met hulle groot staalsnaar akoestiese kitare en pynlike soet folk harmonieë begin sing het. Jen en ek het na die hoofkroegarea verskuif en daar vir Anna aangetref in die geselskap van 'n groot gryshaar man. Ek is al klaar amper 'n voet langer as Anna en die ou was nog langer as ek. Soos die toeval dit wil hê, ken Jen die ou ook van iewers af en toe Anna my met groot blydskap en vreugde omhels en basies daarvandaan my geselskap monopoliseer, het Jen en die gryshaar omie ten minste iets gehad om oor te gesels.

"Die Vortex mense hou môreaand 'n trance party by die Hangklip Hotel," sê Anna. "Hulle doen die beste trance parties. Kom ons gaan! Ek moet môremiddag werk tot vyfuur en dan kan ons daarna deurry. Is jy game?"

Ek was nog nooit by 'n trance party nie, hierdie ding het te skielik op my afgekom en ek weet nie so mooi of Jen entoesiasties gaan wees daaroor dat ek saam met Anna na enige sosiale funksie sou gaan nie, om nie van iets dekadent soos 'n oornag trance party by Hangklip te praat nie. Aan die ander kant, 'n mens moet soms spontane dinge doen en Anna is mooi en vriendelik genoeg, en blykbaar bly genoeg om my weer te sien, dat dit dalk 'n interessante avontuur kan wees. Boonop weet Anna nie dat ek en Jen 'n geheime item is nie.

"Ek's in," sê ek.

"Wees reg vir sewe-uur. Ek kom kry jou."

Kort daarna moet die gryshaar man loop en hy en Anna sê totsiens. Ek moet gaan pis. Daar is geen urinaaltrog in die manstoilette nie, net individuele toilette in hokkies wat so breed soos gange is en amper so lank. Ek het pas die deur agter my toegemaak toe dit weer oopgemaak word en Jen binnetree. Ons ken mekaar goed genoeg dat ek nie "performance anxiety" ontwikkel nie en maak rustig my blaas leeg.

"Daardie vrou is agter jou lyf aan," sê Jen. "Ek weet jy geniet dit. Dis mos jou tipe daardie een, die kort, swartkop dwerg. Dit maak jou mos jags as haar kop net tot hier tot by jou middellyf kom. Sy hoef nie so ver af te buig om jou by te kom nie."

"Anna is nie 'n dwerg nie. Ons is bloot goeie vriende en ek kan nie help as sy bly was om my te sien nie."

"Het jy dit al ingesit?"

"Wat?"

"Het jy dit al ingesit? Het julle dit al gedoen?"

"Is jy laf! Ek't jou gesê sy's net 'n vriend. Ek het haar maande laas gesien."

Teen hierdie tyd was my blaas heeltemal leeg. Voordat ek die ding kan wegsit en toe rits, gryp Jen dit stewig vas en begin dit verwoed manipuleer.

"Kom ons doen dit hier," sê sy. "Sit op die toiletdeksel, dan sit ek bo-op jou."

"Nooit, man, dis 'n manstoilet! Mense gaan inkom en ons hoor!"

"Fok hulle. Dink jy die kort swartkop dwerg sal dit vir jou doen?"

Jen het haar lang romp opgetrek tot bo haar heupe sodat ek haar rooi onderbroekie met die vlindertjies mooi duidelik kan sien. Ek slaan gedwee die toiletdeksel af, laat my broek en onderbroek val en gaan sit. Jen trek die insetsel van haar broekie eenkant toe en kom sit stadig op my skoot. Met die een hand trek sy my versigtig in haar sopnat vulva in. Jen se voete het weerskante baie steun en sy kan met sterk veerkrag haar bekken op en af in myne inboor. Sy leun vooroor en begin aan my linkeroor byt terwyl sy my ry. Twee mense kom die hoofvertrek binne. Ek wil bittergraag hê dat Jen moet ophou, maar gelukkig maak beide van ons so min geraas en die nuwelinge is so luidrugtig dronk dat hulle niks opmerk nie. Dit kos Jen net twee keer se lek diep binne die oorskulp voordat ek kom. Sy staan op en beide van ons gebruik handevol toiletpapier om ons skoon af te vee.

"Kom ons gaan huistoe," sê Jen. "Ek wil saam met jou gaan bad. Jy wens seker die kort donkerkop dwerg kan saam met jou in die bad wees."

Jen is 'n lang vrou met wilde heuningbruin hare en borste en heupe. Anna is veel korter en alhoewel sy die borste het, het sy nie dieselfde Renoir heupe as Jen nie. Interessant genoeg deel aldrie van ons dieselfde sterreteken.

Anna was stiptelik om sewe-uur by my voordeur en haar eerste woorde na sy my gegroet het, was, "Ek dink ons moet dwelms kry, dink jy nie so nie?"

Hoekom het ek vooraf geraai dat sy soiets in gedagte sou hê?

"Ja, goeie plan om ons deur die lang nag te help. As ons gaan stem, sal ek stem vir E of 'n halwe cap acid, eerder as C."

"Ja, jy's reg. Ek't lanklaas goeie E gehad. Anyway, dit gaan moeilik wees om daar 'n privaatplek te kry om te schnarf en ek is al so moeg vir net gedurig coke doen. Boonop is die kwaliteit verdag en die pryse klim al weer."

Geeneen van ons het vreeslik ingepak vir die storie nie. Ek het vir die wis en onwis my duvet saamgebring, maar geen grondseil of tent of enige ander kampeertoerusting nie. Nie dat ek dit het nie. My vertroue was in die organiseerders om seker te maak dat alle moontlike geriewe beskikbaar sou wees. In ieder geval, dit het vooraf by my opgekom dat Anna een of ander vorm van chemiese stimulasie sal wil saamneem en dit sou geen of min slaap beteken. Dus was die duvet nie eers absoluut noodsaaklik nie.

Anna het onmiddellik haar verskaffer gebel.

"Hey, Ike? Howzit, man? It's Anna, yes, Anna, you remember me? Cool, man. Listen, I'm looking for something to take to a party. No not that, I'm looking for the little blue thingies. D'you still have them? Cool, man. Can you get some? Only two. How much are they? Where are you? Okay, Ike, it's cool, man. We'll come through but I want good stuff, hey? I'm bringing a friend. Okay? Bye."

"Ike is 'n cool ou," sê Anna. "'n Mooi, sexy Nigeriese dwelmhandelaar. Meneer Supersmooth. Hy het vir ons iets, maar omdat ek net twee wil koop, moet ons hom gaan ontmoet in die middestad. Dis R50,00 'n pil. Hy sê dis nie E nie. Hy noem dit R. Dis 'n soort van pseudo-E. Is jy okay daarmee? Ike sê dis beter as E."

"Whatever," sê ek.

Ons is in Muizenberg. Volgens die rigtingaanwysings wat Anna met my deel, moet ons Ike onder 'n brug in die omgewing van die Good Hope Centre ontmoet. Dertig minute later parkeer Anna haar wit Uno in 'n parkeerterrein skuins onder die Kaapse Technikon. Dit is al donker, die parkeerterrein is andersins leeg en ek raak gou onrustig omdat dit duidelik is dat Ike nie daar is nie. Ek is een van daardie huigelaars wat nie omgee om 'n dwelm te neem as hy een aangebied word nie, maar ek het nog nooit enigiets onwettigs direk van die handelaar gekoop nie. Dis beter as my vriende dit doen. Dus dra hierdie situasie nie by tot my lewensgeluk nie, alhoewel Anna, soos gewoonlik, opgewek en opgewonde is. Miskien is dit net my eie paranoia wat my visioene van polisielokvalle, arrestasie en vernederende ter tronkbestelling laat sien. As dit nie is dat ek nie soos 'n poephol wil voorkom nie, 'n lafhartige poephol boonop, het ek aan Anna voorgestel dat ons van die hele ding vergeet en maar net vertrou op die alkohol wat beskikbaar sou wees by die trance party.

Na tien minute is daar steeds geen teken van Ike nie en beide van ons is onrustig. Ek, omdat ek die polisie enige oomblik verwag, Anna, omdat sy vies is oor Ike se gebrek aan stiptelikheid. Effens dom van haar. Dwelmhandelaars is altyd laat. Jy wag op hulle; hulle wag nie op jou nie. Anna begin dink dat sy Ike se rigtingaanwysings verkeerd verstaan het en sy bel hom, maar hy is nie op sy selfoon beskikbaar nie. Anna se gevolgtrekking is dat ons dalk by die verkeerde brug is – die enigste brug in ons omgewing is 'n voetgangeroorbrug wat twee dele van die Technikon kampus verbind.


 

Die oplossing is om op 'n sending te gaan om die korrekte brug te gaan soek waar Ike waarskynlik geduldig vir ons wag. Eers ry ons oor die straatbrug wat verby die spoorwegstasie loop, af na Oswald Pirow Boulevard en draai dan slap regs en ry terug in die rigting van Muizenberg, onder die Oostelike Boulevard deur, want miskien het hy die pad bo in die lug as 'n brug gesien. Sover Anna kan onthou ry Ike 'n rooi Toyota Corolla en sy soek naarstigtelik na enige rooi kar. Ons sien geen rooi kar nie. Anna draai weer regs en kom terug in Darlingstraat en ry terug tot by die Technikon se parkeerterrein wat steeds leeg is. Sy bel weer. Selfoongebruiker bly onbeskikbaar. Ons ry weer oor die brug, maar die keer 'n ent verder oor die verkeersligte totdat Anna vir geen voor die hand liggende rede nie indraai by 'n pad wat agter verby die ou Culemborg spoorweg gebouekompleks loop. 'n Ander deel van die Oostelike Boulevard loop hier oorhoofs verby en kan miskien die misterieuse brug vorm en dalk maak dit sin om jou dwelmhandelaar in 'n afgeleë, donker plek te ontmoet. Ons dwaal al dieper in die vervalle industriële landskap van 'n perseel wat al lankal nie meer deur die spoorweë benut word nie. Die pad maak draaie, kruis geroeste spoorlyne, verdwyn agter murasies en dit lyk my ons ry al dieper die verderf in. Daar is geen straatligte nie.


 

Nou begin ek amptelik senuagtig word. Ek ken hierdie wêreld glad nie, dit lyk nie of Anna weet wat sy doen nie en ek begin nou bevrees raak dat enige hoeveelheid Kaapstadse gangsters skielik uit die donker tevoorskyn kan kom, ons uit die kar ruk en wegjaag daarmee, moontlik nadat hulle ons doodgeskiet het. Op hierdie stadium en op hierdie plek is polisielokvalle die minste van my bekommernisse. Na 'n eindelose tien minute se doellose rondry in die industriële doolhof, kom ons terug op Oswald Pirow en Anna verkies om terug te ry na die welbekende parkeerarea. Ek hoop en bid dat geen polisievoertuig in die omgewing is nie. Hulle sal waaragtig blind en dronk moet wees om nie agterdogtig te raak oor die wit Uno wat so klaarblyklik sinneloos rondry en telkens na dieselfde verlate parkeerarea terugkeer nie. Skreeu dit nie gepoogde dwelmtransaksie nie?

Anna bel weer. Goddank hierdie keer is Ike aan die ander kant van die selfoon. Volgens hom wag hy al heeltyd geduldig vir ons by die parkeerterrein bo-op die stasie gebou, skaars ses honderd meter van waar ons op daardie oomblik is, en die plek waarnatoe hy Anna in die eerste plek verwys het. Die waarskynlikheid is dat ons 'n paar keer by hom verbygery het in ons simpel soektog na die mitiese brug wat moontlik slegs in Anna se opgewonde verbeelding bestaan het. Dit sou my nie verbaas het as hy gedink dat hierdie witmense mal in die kop is nie.

Nadat Anna in die stasie parkeerterrein parkeer, klim 'n lang, maer Swart man in 'n wit moulose frokkie en wit jeans uit 'n rooi Toyota en slenter stadig nader. Anna draai solank haar vensterruit af. Die man leun met sy boarms op die vensterraam en glimlag breed vir ons.

"How are you doing?" sê hy in 'n gekultiveerde, uitlandse stem. Hy gee my 'n lang versigtige kyk. Ek glimlag terug soos dit 'n skadelose ou betaam.

"Hey, Ike, man, it's cool," sê Anna. "This is my friend. We're going to a trance party at Hangklip and we thought we'd get something to keep us going, you know?"

Ike mag weet wat 'n trance party is, maar ek vermoed sterk dat hy nog nooi by Hangklip was of selfs weet waar dit is nie. Al wat ek wil doen, is om die transaksie af te handel en te fokof, maar dit kom my voor dat Anna 'n hele sosiale kaffeeklatsch ding wil doen.

Gelukkig is Ike 'n sakeman en derhalwe meer doelgerig. Hy staan orent, bespied die omgewing en leun dan weer in die kar in en laat val nonsjalant 'n klein papierpakkie op Anna se skoot. Sy het alklaar twee R50 note klein opgevou en dis 'n sekonde se werk om dit van haar handpalm na Ike s'n oor te dra. Hy staan weer orent, kyk heen en weer, strek en slenter terug na sy kar. Anna en ek gloei van opwinding en verligting.

"Nou kan ons die pad vat, goddank," sê Anna. "Dis 'n goeie ding dat hierdie trance parties eers in die nag begin koers kry."

Ons het so om en by tien dertig by Hangklip aangekom. Die laaste keer wat ek daar was, was toe ek 14 jaar oud was en op 'n Voortrekker fietstoer was. Ons het vir vyf dae daar gekampeer digby een van my mede Voortrekkers se familie vakansiehuis. In daardie jare was Hangklip so te sê onbewoon. Nou is daar oral huise op die plat stuk bossiegrond tussen die hoofpad en die see. Dis baie donker en Anna soek versigtig na die klein Foolish Moon padtekens wat die rigting aandui. Daar is geen ander voertuie op die pad nie. Dis weereens met groot verligting dat ons die ligte van die hotel in die verte sien. Die parkeerarea om die hotel is vol, maar Anna vind tog 'n spasie waar sy haar Uno kan indruk.

Ons betaal die toegang, kry ons armbandjies en betree die wêreld van Foolish Moon.

Daar is verskeie gazebos in die onmiddellike omgewing van die ingang, met allerlei handgemaakte, kunstighede, soos suede bikini's, halssnoere met vere en klippies, wierookhouers, daggapype, dream catchers, waterverfskilderytjies, vele meer. Regs van die ingang is daar 'n reeks oop tente wat 'n groot vertrek vorm, met grondseil en al. Ek vermoed dat dit 'n afkoelarea moet wees. Links om die draai van die ingang is daar 'n lapa of boma, of wat dit ookal genoem word, waar die kroegtoonbank is en 'n klein, lae verhoog. Verder aan is die kos tente waar allerlei vegetariese spyseniering aangebied word. Hierdie mense het hul eie klanktoerusting wat heeltyd 'n alternatief bied tot die musiek oop die verhoog of wat deur die DJs gemaak word.

As 'n mens reguit vorentoe stap van die ingang af, en om 'n klomp melkhoutbome koes, is daar 'n groot oop stuk wit sand. Die klanktoring en DJ booth van die trance jockeys is aan die oorkant daarvan en die seesand is dus die dansvloer. In die area tussen die dansvloer en die afkoeltent is daar vele ander bewoonde tente en blykbaar ook nog verder agter in die terrein in.

Ons gaan kry elk 'n Windhoek Lager by die kroeg en stap rond om onsself te oriënteer. Met die eerste oogopslag is my indruk dat ek hier in 'n neo-hippie skate punk wêreld ingeloop het. Die oorwegende indruk is van jeug en vormlose, wyepypbroeke en los klere van natuurlike materiaal. Alles lyk totaal whole earth en lensies. Tribal. Die oorgrootte meerderheid van die mense het donker hare, iets wat my veral die volgende dag opval. Daar is baie daggarokers in die omgewing. Die mense is almal vriendelik, het groot oë en kom voor asof hulle nie heeltemal kontak met die aarde maak nie.

Anna stel voor dat ons daaraan moet dink om die E's te neem sodat hulle net op die regte tyd, iewers na middernag, kan inskop. Sy haal die twee pilletjies versigtig uit haar beursie, gee my een so onopsigtelik as moontlik en ons sluk hulle af met teue bier. Nou's daar geen keer nie.

Dis tyd dat die Benguela trio speel en ons gaan maak ons tuis in die sand so tien tree van die lae verhoog af. Benguela bestaan uit 'n kitaarspeler, basvioolspeler en tromspeler en ook iemand wat elektroniese masjiene gebruik om ekstra ritmes en tekstuur aan die musikante se klank te gee. Die onderliggende ritme is trance en die musikante improviseer daarmee saam. Die kitaar word deur 'n elektroniese eggomasjien gespeel sodat die note mekaar se sterte kan jaag en die effek van 'n ewigdurende beweging het. Halfpad deur Benguela se "set" voel ek 'n warm gevoel in my lyf opstyg. Die E is in effek!

'n Man wat Anna iewers voorheen ontmoet het, kom met haar en gesels. 'n Jong meisie regs van my begin met my praat. Almal voer spontane, vriendelike gesprekke. Die vibes begin cool raak.

Na Benguela is dit tyd vir Colourfields om 'n trance set te speel vanuit die DJ toring. Alle belangstellendes stap oor na die sandstrook voor die DJ toring. Die Colourfields musiek word begelei deur 'n stroboskoop, lasers en psigedeliese ligte en al. Sommige van die mense begin dans, maar die meeste staan doodstil en staar na die toring en/of die ligvertoning. Anna en ek staan heel agter die skare en wikkel so nou en dan ons heupe.

Colourfields speel vir 'n uur. Die E het nou lekker begin inskop en toe die eerste trance stuk begin doef doef nadat Colourfields die verhoog verlaat het, is ek in die middel van die dansende skare. Anna kom eers saam met my, maar verkies om aan die agterkant van die groep te dans. Stadig maar seker retireer sy totdat sy uiteindelik net buitekant die hoofgroep is. Sy dans effe staties, soos die meeste van die res. Sy staan net daar op een plek, beweeg skaars haar voete, wieg heen en weer en maak 'n paar armbewegings. Ek verkies die bondel en ek hou daarvan om rond te beweeg en nie net op een plek te staan nie. Ongelukkig werk dit nie so goed in die bondel nie. Niemand anders wil beweeg nie en hulle hou nie daarvan as ek in hul spasie instrompel nie. Die snaaksste ding is dat al die dansers in geledere opgestel is en almal na die DJ toring kyk alhoewel daar absoluut niks te sien is nie, behalwe miskien die gesig van die DJ wat knoppies draai of "faders" skuif, of wat dit ook al is wat 'n trance DJ doen. Dis soos 'n kleiner weergawe van die danstoneel uit die rolprent Antz. Ek is die enigste persoon wat gedurig rondbeweeg, meestal in 'n stadige sirkel sodat ek na my mededansers kan kyk, en ook om Anna onder oog te hou.


 

Teen twee uur die oggend is Anna se gô uit of die dwelmwellus is weer op haar. Sy kom pluk aan my arm.

"Ek dink ons moet nog E's kry," sê sy. "Ek gaan 'n draai stap en check of ek iemand kan raakloop met 'n ekstratjie, okay?"

Ek voel nog sterk, maar ek sal ook nie nee sê vir 'n aanvullertjie nie. Anna verdwyn tussen die melkhoutbome in en ek bokspring rustig voort totdat Anna terugkeer met 'n groot glimlag en met 'n handgebaar my eenkant toe roep, weg van die hoofgroep.

"Ek het die oulikste 19-jarige seuns ontmoet," sê Anna. "Hulle het alles daarso by hulle tent. E, acid, poppers en zol. En hulle het glad nie gehuiwer om twee pille aan my te verkoop nie. Hulle noem dit Smurfs."

"Meer pseudo-E?"

"Ek skat so. Hulle sê dis goeie goed."

Ons gaan terug na die kroeg om water te soek. Die gebottelde water is uitverkoop en daar is skaars enige yswater oor. Ons deel 'n Windhoek vir die pilslukkery en keer terug na die dansarena.

Na 'n lang ruk kom pluk Anna weer aan my hemp.

"Ek gaan terug agtertoe, na die 19-jariges se tent om te gaan gesels," sê sy.

My raaiskoot is dat daar 'n sexy jong hings daar moet wees wat Anna se chemies-aangejaagde hormone stimuleer. En hoekom nie? Sy is 'n volwasse vrou met 'n volwasse vrou se seksualiteit wat die krag en onblusbare energie van jong mans goed sal kan benut as dit beskikbaar is.

Ek het nie die vaagste benul hoe laat dit is nie, maar ek is nou definitief op 'n plak en my spastiese dansbewegings word al hoe wilder totdat ek blykbaar op iemand se tone trap. Dis hierdie jong, blonde ou. Sy hare is kort langs die kant en veel langer bo, met 'n middelpaadjie en 'n "widow's peak" en hy het 'n dun snorretjie. Hy lyk soos 'n karikatuur van 'n Nazi SS Man. Hy gluur my aan en maak handbewegings om aan te dui dat ek oortree in sy spasie. Ek beweeg weg. 'n Rukkie later tik hy my op my skouer en gee my 'n bose glimlag en versoek weer met gebaretaal dat ek tog moet fokof uit sy spasie. Hy praat met 'n kort gesette ou langs hom en wys na my. Die kort ou draai om en gee my 'n kyk. Nou skrik ek, want die laaste ding wat ek wil hê, is om deur hierdie twee gemoer te word. Ek beweeg ver weg en poog om my wilde bewegings te temper.

Dit word stadig maar seker lig. Die Hangklip krans toring bokant ons uit en die son klim agter hom uit. 'n Jong meisie, waarskynlik nie ouer as 18, in 'n lang seeblou rok met spaghetti bandjies, vol borste en lang bruin hare wat amper tot teen haar stuitjie hang, doen 'n sonsopkomsdans. Sy kyk op na die ooste, laat haar kop agteroor hang, maak Egiptiese armbewegings en glimlag ekstaties. Die ander dansers skoffel ongeërg voort asof hulle nie 'n duit omgee vir haar of die sonsopkoms nie. Ek gee my volle aandag aan haar.

Teen agtuur is ek voos gedans. My bene is stram. My sandale en bene is vol stof, waarskynlik my klere ook. Dis helder dag en ek is honger en dors. Ek koop 'n Windhoek by die kroeg en gaan koop die koue vegetariese kerrie by die kos tent. Dis beter as niks en in elk geval nie onsmaaklik nie, al kon die kosmense dit nie warm maak nie. Ek gaan soek na Anna om te hoor of sy ook honger is. Toevallig is sy op soek na my en ons tref ek mekaar naby die dansvloer aan. Sy wil nie iets eet nie, maar gee my 'n halwe Smurf om ons deur die res van die dag te dra en nooi my om die 19-jariges te ontmoet.


 

Hulle tent is opgeslaan net agter die klompie melkhoutbome wat die dansarena van die hoofkampeerarea skei. Ons kan nie meer die dansers sien nie, maar die doef doef klank is orals. Ons gasheer is Tommie, bruin hare, sake onder die oë, en oop vriendelike, gasvrye glimlag en stewige handdruk.

"Hoe kan ek jou dag beter maak?" is Tommie se eerste woorde aan my.

Tommie se maatjie heet Corné en hy is minder vriendelik. Lank, blond, breë skouers, nou heupe, permanente pruilmond. Styfpassende T-hemp. Hy weet hy is mooi en lyk goed en soos 'n kat neem hy gedurig 'n posisie in waar die omstanders hom op sy beste kan waarneem. Ek beskou die interaksie tussen Tommie en Corné so en besef dat ek verkeerd geraai het oor die rede vir Anna se affiniteit vir hulle. Sy het haar by hulle kom voeg juis omdat hulle nie seksueel op haar jag sou maak nie, en waarskynlik ook omdat hulle so 'n verskeidenheid van dwelmmiddels byderhand het.

Tommie en Corné is blykbaar kort bymekaar en dit grief my om te sien hoe hard Tommie moet werk om Corné gelukkig te hou. Tommie paai, sê mooi, bemoedigende woorde en gee drukkies asof Corné 'n wafferse groot, verveelde kleuter is. Corné neem al die emosionele insette asof dit sy godgegewe reg is en gee niks terug nie. Ek kry Tommie jammer en sal nie daarop wed dat die verhouding baie lank gaan hou nie.

Dit is my hartsbegeerte om 'n glas Coke te drink en Tommie is so gaaf as om na sy kar te stap en met 'n nuwe koelsak vol koeldrank en ys terug te kom. Daar is alreeds twee ander koelsakke by die tent en ek is vol bewondering vir hulle kampeerparaatheid, veral in vergelyking met my patetiese gebrek aan enige voorbereiding.

Ek drink die Coke en lê daar rond met Anna. Gys kom aangeslenter. Hy is klein, maer, donker, lyk soos regte agterstraat skarminkel. Groot sin van humor. Hy kruip onmiddellik agter in die tent in om klere te ruil. Dit is nogal nie te sleg nie om half-wakker in die son te lê en luister na die ander se twakpratery, Tommie se flikflooiery met Corné te beloer en om na Gys se grappies te luister. Nog 'n lid van die groep, Ricky, keer terug van iewers af en gaan lê agter in die tent. Hy is pootuit na 'n lang nag se jol. In die verte doef doef die musiek voort en op 'n manier maak dit alles kosmiese sin vir my. Watter soort sin, weet ek nie, bloot dat ek rustig, gemaklik en vreedsaam voel.

Totdat dit begin tyd word om huistoe te gaan en ek besef dat Anna nie juis weet of sy Anna of Janna is nie.


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 

No comments: