Thursday, November 29, 2007

Albert Court Blues

Ek het hierdie ou Safeway audio kassetband met opnames wat ek in 1990 gemaak het op 'n Sanyo diktafoon by die Albert Court woonstel van my vriend Larry Hobart. 'n Stukkie audio verité wat ek onlangs opgegrawe het toe ek ingepak het vir my verhuising vanaf Muizenberg terug na die Tuine.

Larry het op ouderdom 31 'n loopbaankrisis en emosionele katarsis in Johannesburg beleef, die werk opgeskop, gevlug van die vrou wat sy hart gebreek het en teruggekeer na sy geboortestad om hom in te skryf vir 'n eenjaarsdramakursus by die Universiteit van Kaapstad. Dit was sy poging om homself te vind deur 'n kursus te volg waar 'n mens leer om jouself in ander karakters in te leef.

Hy het ingetrek in 'n huurbeheerde, eenslaapkamer woonstel in Albert Court, Langstraat. Die vorige huurder van die plek was 'n balletdanser wat na Londen verhuis het. Die balletdanser was nie die oorspronklike huurder nie. Al die agtereenvolgende bewoners van die woonstel het voorgegee dat hulle die oorspronklike huurder was en sorgvuldig stiptelik elke maand die R180,00 betaal wat verseker het dat niemand kom kyk wat aangaan nie of poog om die huurbeheerde status te wysig nie. Larry se drama kursus is aangebied by die Michaelis Kampus van die Universiteit van Kaapstad en die kampus was tien minute se stap van sy woonstel af.

Albert Court is geleë in Bo Langstraat, die deel van die straat wat die langste 'n residensiële komponent behou het in plekke soos Albert Court, die Blue Lodge en die Riviera woonstelle, al was die meeste van die bewoners mense wat een stappie van die "outers" was. Van die sypaadjie af, tussen die fish'n'chips winkel en Clarke's Bookshop, was daar 'n deur en 'n steil, donker onwelriekende trap wat toegang verleen tot die binneplaas van Albert Court, een vloer bo straatvlak. Die binneplaas vorm 'n atrium met woonstelle op twee vlakke rondom gerangskik. Larry se woonstel was agter in 'n hoek op die eerste vloer. 'n "Catwalk" het verby sy sitkamer- en kombuisvensters geloop, na die yster brandtrap. Aan die voet van die brandtrap was daar 'n donker, klam sement area waar straatmense soms geslaap het. Vanuit sy kombuis of sitkamer het Larry uitgekyk op die baksteen agtermuur van 'n kantoorgebou.

Larry was 'n anomalie in Albert Court, synde 'n middelklas graduant met 'n regsgraad uit 'n goeie Katolieke huis, wat daar gebly het omdat hy 'n alternatiewe loopbaan keuse wou volg en geld moes bespaar. Larry se bure was die Wit opdrifsels van Kaapstad wat in Albert Court vergader het omdat dit so goedkoop was. Daar was Roger die lang, maer blonde ex-Recce alkoholis en sy maatjie Bennie, 'n kort, donkerkop visserman wat op 'n boot in Kalkbaai hawe gewerk het. Hy was een van die min inwoners van Albert Court wat wel een of ander vorm van betrekking gehad het. Daar was Becky, Larry se buurvrou, die oermoeder van die groep mense en die biologiese moeder van Kreupel Koos wat in die woonstel bokant Larry gebly het. Ek het Becky nooit buitekant haar woonstel raakgeloop nie en ek vermoed dat sy hoofsaaklik bedlêend was. Daar was Laynie, 'n lang, maer rooikop vrou, wat 'n kind iewers gehad het, en altyd in 'n kortbroek te sien was, moontlik het sy gedink haar maer, knopknie bene was moers sexy, soos haar hare wat gewoonlik in twee vlegsels weerskante van haar ou, gelynde gesig gehang het. Ek het van Larry verstaan dat sy min of meer so oud as ons was, maar vir my het sy ten minste tien jaar ouer voorgekom. Daar was Marie, 'n fyn, mooi-maar-uitgeblykte donkerkop met 'n Prince Valiant haarstyl wat klere gemaak het. En nog andere wat ek nooit gesien het nie. Soms wel gehoor het. Daar was omtrent elke aand een of ander strydlustige woordewisseling of bakleiery. Die Polisie is gereeld ingeroep om rus en orde te herstel of om, as laaste uitweg, een of meer strydendes ten minste oornag op te sluit.

Larry het die betrokke aand gekook en terwyl ons gewag het vir die kos om gaar te word, het hy op sy staalsnaar kitaar begin speel, sommer deuntjies opgemaak, en op die ingewing van die oomblik het ek gesê, "wag 'n bietjie, ek wil hierdie goed opneem" en my gehaas na my kantoor in Kerkstraat, so tien minute se stap daarvandaan, om my diktafoon te gaan haal. Die opnamekwaliteit was nie watwonders nie, maar die mikrofoon was sensitief genoeg om omtrent enige klank in 'n vertrek op te vang.

Die opnames op die eerste kant van die kasset is meestal van Larry se spel en sang. Hy het 'n natuurlike musiektalent en vaardigheid en kan goeie blues speel en hy weet soveel oor akkoordprogressies dat hy die vermoë het om hulle pasreg agtermekaar in te ryg, dat hy met die grootste gemak enige stuk musiek kan opmaak en so nonsjalant speel dat dit klink asof hy dit al jare gelede geleer het. Terselfdertyd kan hy lirieke improviseer en 'n gangbare deuntjie inpas. Dis wat hy oorwegend doen hier op die kasset, 'n mengsel van blues en eie improvisasies. Op 'n stadium verlaat hy die vertrek en ek vat die kitaar om die snare op my eiesoortige manier te tokkel. Wanneer Larry weer begin speel, gryp ek 'n paar potte en twee houtlepels en speel 'n rukkerige trombegeleiding. Uiteindelik haal ek 'n vel papier uit met 'n stukkie liriek wat ek kort te vore geskryf het, my poging tot gospel, genaamd "Give Me Wings (dear Jesus, let me fly)", en begin dit sing. Larry wag vir 'n sekonde of twee voordat hy inspring met akkoord begeleiding en 'n bietjie harmonisering en ons doen 'n volledige, ekstatiese gospel blues. As ek vandag daarna luister, skaam ek my vir my vals stem, maar is steeds beïndruk deur Larry se vermoë om my so goed te begelei. 'n Ordentlike singer sal waarskynlik iets goeds kan doen met die lied.

Nadat "Give Me Wings" eindig, begin Larry met 'n "skit" oor die Kerkmense en ek spring in en vir 'n minuut of twee doen ons 'n humoristiese improvisasie. Dit is iets wat Larry in sy drama kursus geleer het en ek was nog altyd bereid om 'n rol te speel vir 'n mikrofoon as ek op my gemak in die geselskap is.

Die tweede kant van die kasset spring af aan die einde van die gospel "skit." Terwyl Larry 'n "blues shuffle" speel, gee ek voor ek is 'n Amerikaanse blues geleerde wat in die agtertangse areas van Mississippi besoek aflê by die gehuggie genaamd Godforsaken, op soek na die onbekende en onberoemde blues sanger Blinde Larry Hobart, 'n man wat vir 69 jaar in die vergetelheid musiek gemaak het. Die ou man wat ek aanspreek as Blinde Larry stel my gou reg. Hy is in werklikheid Dowe Larry Hobart, die tweelingbroer van Blinde Larry. Ek word nie maklik van stryk af gebring nie en gaan voort met my radio onderhoud met Dowe Larry. Hy kan praat, maar ek moet handseine gebruik om met hom te kommunikeer, veral as ek wil hê dat hy iets moet speel.

Dowe Larry maak keel skoon, stem sy kitaar in en rek sy stembande met 'n paar sekondes se atonale toonleersingery. Dan sing hy "Coyote Blues."

"Dis als baie mooi en gaaf," sê ek, "maar besef jy dat jy eintlik in alligator wêreld leef? Wat weet jy van coyotes?"

Hierdie wysneusigheid maak Dowe Larry boos.

"Waar kom jy vandaan? New York City?" vra Dowe Larry. "Ek haat mense van New York City."

"Ek is afkomstig van Des Moines, Iowa."

"Wie dink jy gee jou die reg om enigsins vir my in my eie huis te kom vertel hoe ek die blues moet speel?"

"Ek bestudeer al vir 45 jaar lank die blues, ek het 5 boeke oor die blues geskryf het, 5 TV programme oor die blues gemaak en 25 miljoen mense gaan na hierdie radio-uitsending luister. Dwarsoor die nasie, kus tot kus. As jy my nie hier wil hê nie, sal ek gaan, maar dan is dit totsiens aan enige kans wat jy mag hê om bekendheid te verwerf."

Nou is Dowe Larry effens ontsteld omdat hy nie sy kans op roem en rykdom net so goedsmoeds wil weggooi nie.

"Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om 'n geheim met die luisteraars te deel," sê Dowe Larry.

"Watter soort geheim?"

" 'n Geheim oor my tweelingbroer, Blinde Larry Hobart."

Natuurlik is ek nou ene ore en vra hom om voort te gaan.

"Die geheim," sê Dowe Larry, "is dat Blinde Larry nie my broer is nie, sy is my suster."

"Laat ek dit reg verstaan. Jy wil vir my en my luisteraars te kenne gee dat jou tweelingbroer Blinde Larry in werklikheid jou tweelingsuster Blinde Larry is?"

"Ja."

"Blinde Larry het geen hare op sy kop nie en 'n baard wat tot op sy voete hang!"

"Hy het hormoonbehandeling ontvang. Daar is iets anders wat ek moet sê."

"Nog iets?"

"Ja, dis nog erger. Ek het al jare lank 'n verhouding met haar."

" 'n Verhouding? 'n Seksuele verhouding?"

"Ja."

Dowe Larry raak bewoë en begin huil. Hy is diep ontsteld en kan skaars 'n verdere woord uitkry.

"G'n wonder jy het die blues nie," sê ek.

"Ek's diep ontsteld en jy maak grappies! Watter soort poephol is jy?"

"Hierdie is 'n storie wat ek aan die hele wêreld gaan vrystel. Dis absoluut sensasioneel. Dit gaan my ryk en beroemd maak."

Dowe Larry begin stadig beter voel, alhoewel hy nog steeds swaarmoedig is. Sy gemoed is swart en donker.

"Ek het nou genoeg gehad van jou en jou grappies ten koste van my waardigheid," sê Dowe Larry. "Ek dink ek moet jou sommer met my kitaar doodslaan."

"Nee, nee, nee, dis nie 'n goeie idee nie. Sing liewer 'n blues sodat jy beter kan voel."

"I am down, I am down, I am down," sing Dowe Larry.

"Dis 'n oulike frase uit die volksmond wat beteken dat die singer diep ongelukkig is," sê ek.

"I am as unhappy as a skunk in a perfume bar," sing Dowe Larry. "I am as unhappy as this here guitar. Lord, take this asshole out of my sight…"

"Ek vertrou dat ek nie die 'asshole' is na wie jy verwys nie. Besef jy nie dat hierdie onthulling jou skatryk kan maak nie?"

"Geld maak nie vir my saak nie. Al wat ek wil hê, is 'n kano."

' 'n Kano?"

"Ja, 'n kano."

"Wat wil jy met 'n kano maak?"

"Ek wil met daardie kano in die moeras inroei en jou dooie liggaam vir die alligators gooi."

Ek skrik, want ek was onder die indruk dat ek sy aandag afgelei het van sy moordlustigheid. Dowe Larry is nou absoluut vasberade om my die ewigheid in te help met sy .45 pistool, of dalk 'n skerp mes. Hy steur hom nie aan my pleidooie nie.

"Hierdie uitsending gaan 'n historiese geleentheid wees," sê Dowe Larry. "Dit gaan 'snuff radio' wees."

Hy sit sy kitaar neer, trek rubberhandskoene aan en begin 'n mes slyp terwyl ek paniekbevange raak en desperate pogings aanwend om hom van plan te laat verander.

"Daar is niks wat jy kan sê om my van die plan te laat afsien nie," sê Dowe Larry. "Ek is $25 000 betaal om jou te vermoor."

Nou is ek amptelik paniekbevange en ek pleit hartroerend, ek skreeu en ek huil. Selfs nie eers my versekering dat hy meer geld uit die radio-uitsending gaan maak as wat hy verdien om my dood te maak, maak enige indruk op Dowe Larry nie.

"My opdrag is om dit stadig te doen," sê Dowe Larry. "Ek gaan begin met jou been. Ek gaan jou eers in die een been steek, dan die ander been."

Hy voeg daad by die woord en steek my in die linkerbeen.

Ek gil van die pyn.

"Sien! Sien jy wat jy nou gedoen het? My been bloei!" sê ek. "Kyk net daar, dit mors orals."

Dowe Larry is nou deurmekaar.

"Wat is daardie rooi goed op jou been? Is dit bloed?" vra Dowe Larry.

"Ja dit is bloed. Dit is nie tamatiesous nie!" sê ek. "Ek bloei. Ek verkeer in pyn. Ek gaan doodbloei."

"Dit is nie vir my lekker om deurmekaar te wees nie. My kop is deurmekaar. Ek hou nie daarvan nie."

"Dink jy ek hou daarvan? Ek is die een wat seergekry het."

Dowe Larry kalmeer effens en begin tob.

"Miskien moet ek jou met 'n hou teen die kop doodslaan."

"Wag 'n bietjie, wag 'n bietjie! Volgens ons kontrak moet jy nog twee liedjies sing vir die radioprogram. Jy word nie betaal as jy nie nog twee liedjies sing nie. Vergeet van daai ander nonsens. Sing twee liedjies."

Dowe Larry is aanvanklik nie geneë nie, maar besluit tog om sy kontraktuele verpligting na te kom en neurie twee blitsvinnige blues wat elkeen bloot 'n paar sekondes duur.

"Okay, ek het die liedjies gesing. Nou kan ek rustig voortgaan om jou dood te maak, maar daar is net een ding wat ek wil weet. Het jy al ooit 'n vrou gehad?"

" 'n Vrou gehad? Hoe bedoel jy 'gehad' ?"

"Het jy al ooit 'n vrou genaai?"

"Insluitende hoere?"

"Ja, ek reken so."

"Wel, insluitend hoere, geen. Maar ek het ook nie 'n suster gehad nie."

Nou begin die laaste fase van die menseslagting. Dowe Larry beweeg vorentoe met die skerp mes. Ek retireer en gil en pleit. Hy is meedoënloos. Praat afgemete oor hoe my gaan kerf, versoek dat ek tog stilstaan. Ek babbel en skrei skril soos 'n baba varkie. Dowe Larry lig die mes.

Daar is 'n kloppery aan die voordeur.

Die diktafoon word afgeskakel. Larry gaan voordeur toe. Ek skuil in die kombuis.

Twee lede van die SA Polisie staan by die woonstel se voordeur. Hulle het 'n klagte ontvang dat iemand vermoor word in die woonstel en het kom ondersoek instel.


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 


 

No comments: