Wednesday, November 28, 2007

Musiek Van Die Hart

Ondanks die wye keuse tot haar beskikking uit my CD versameling het Karen in die ses maande wat ons in Mowbray gewoon het net twee van my albums gespeel, Maria McKee se You Gotta Sin To Get Saved en Steely Dan se A Decade Of
Steely Dan. Voor ons die huis gedeel het, was beide albums my groot gunstelinge. Na ses maande se amper daaglikse aanhoor en mettertyd onder omstandighede waar die romanse lank reeds uit die saamwoonproses verdwyn het, het die herhaling veroorsaak dat ek vir etlike jare daarna nooit weer na enige van hierdie albums geluister het nie.

You Gotta Sin... was omtrent sonder uitsondering die eerste CD wat Karen gespeel het wanneer ons na werk tuis gekom het en sy het nie geskroom om twee of drie keer 'n dag daarna te luister oor naweke nie. Nou nog, alhoewel Steely Dan amper gerehabiliteer is, luister ek selde na dié twee CDs omdat hulle, in die geykte frase, herinneringe terugbring, herinneringe wat ek nie juis wil oproep nie. Karen het wel soms na ander musiek geluister, soos die eerste Vaya Con Dios album, ek dink dit is Nightbirds, en Bob Marley se Kaya, beide haar eiendom, maar dit was veral Maria McKee se countrysoulgospelrock'n'roll wat daagliks deur die huis gebulder het.

'n Jaar of wat daarna het Karen se entoesiastiese aanprysing my oorreed om Tom Waits se Heart Of Saturday Night te koop, en nog later ook sy Raindogs album. Beide albums is steeds groot gunstelinge. Die ding is, ons twee het tot 'n groot mate dieselfde musiek- en rolprentsmaak, alhoewel my belangstelling wyer as hare strek, en ek kan gewoonlik pyl trek op enige aanbeveling wat sy maak. As Karen daarvan hou, sal ek tien teen een ook daarvan hou. Dikwels het dit egter nie andersom gewerk nie, omdat my smaak soveel omvattender is as Karen s'n. Kort na Jerry Garcia se dood in 1995 het ek die Live Dead album gekoop en toe ek dit by die huis wou speel, was Karen se onmiddellike reaksie "sit dit af, ek hou nie van daardie jazz rock musiek nie." Dat dit in werklikheid nie jazz rock was nie, is seker nie ter sake nie. Ek het gedienstig en gedwee die album uit die CD speler verwyder en gewag tot Karen gaan slaap het voordat ek, met oorfone, weer daarna geluister het.

Pulp Fiction was ons topgunsteling rolprent van daardie jaar. Ons het dit 'n paar keer op die groot skerm gesien en nadat ek 'n videospeler gekoop het, het ons dit gereeld op video gehuur, veral as ons gaste gehad het. Ons het selfs die video saamgeneem na partytjies om mense wat dit nog nie gesien het nie, te oorreed dat dit wonderlik was. Noem ons die Pulp Fiction sendelinge. Ek kan nie onthou hoeveel keer ek die rolprent gesien het nie, maar dit was my weergawe van die Sound Of Music fanatisisme waarvan ek gelees het toe ek jonger was. Karen en ek het die klankbaan naderhand so goed geken dat ons, as partytjievermaaklikheid, stukkies dialoog opgesê het net voor die karakters op die skerm praat.

Ewenwel, in Pulp Fiction is daar 'n toneel tussen die John Travolta en Samuel L Jackson karakters waarin laasgenoemde, op navraag oor sy eetgewoontes, iets sê soos, "my girlfriend is a vegetarian and that pretty much makes me a vegetarian." Nou, Karen was op daardie stadium nog 'n volslae vleiseter, maar die punt is dat die musiek wat ons in die huis geluister het, deur haar gekies is. Dus, al was ek naderhand gewalg deur Maria McKee, 'n arties van wie ek voorheen besonder baie gehou het, was dit nutteloos om iets anders te probeer speel waarvan ek meer sou gehou, ten minste net as afwisseling. Vir Karen was dit waarskynlik net so belangrik om in beheer van sake te wees en seker te maak dat sy bepaal waarna geluister word as om na iets te luister waarvan sy gehou het.

River was so 16 maande oud en 'n handvol. Karen, wat saans selde enigiets met River te doen gehad het omdat ek hom gebad het, vermaak het en in die bed gesit het, het gewoonlik teen nege-uur gaan slaap omdat sy so moeg was. Ek was self moeg. River het in ons kamer geslaap, op 'n matrassie op die vloer aan my kant van die bed en elke kreuntjie en steuntjie van sy kant af het my wakker gemaak en dit was altyd ek wat in die nag opgestaan het as 'n bottel voorberei moes word en dus was my slaap altyd onderbroke. Ek kon net nie so vroegaand al in die bed klim nie. Dan het ek in die vroeë oggendure wawyd wakker geword en tot dagbreek lê en rondrol. In elk geval, dat beide River en Karen vroeg in die bed was, het vir my 'n gulde geleentheid gegee van tyd op my eie, die eerste kans wat ek sedert tuiskoms gehad het om te ontsnap aan die dwingende aandag wat ek aan River, en daarna Karen, moes gee.

Ek het my voor die hoëtroustel neergeplak, musiek opgesit waarna ek wou luister – met oorfone natuurlik – en gelees vir negentig minute of so, voordat ek vaak genoeg was om ook te gaan inkruip nadat ek gebad het.

Hierdie oneweredige bedtye was nie goed vir ons sekslewe nie. Om die waarheid te sê, dit was na 'n maand se saambly duidelik dat ons sekslewe op die afdraande pad was. Karen het nie van klein fisiese liefdesgebaartjies gehou nie en het nie geskroom om haar irritasie te wys as ek byvoorbeeld verbystap en haar liggies oor die nek streel as sy by die stoof staan nie, en ek het mettertyd opgehou om op daardie manier toegeneentheid te toon. 'n Ander passiemoordenaar was dat Karen in die bed geklim het in 'n onaantreklike, los sweetpak wat glad nie 'n boodskap van seksuele hunkering oorgedra het nie. Dit was winter, maar sy is warmbloedig, die duvet was warm en ons twee sou saam genoeg liggaamshitte opgewerk het dat dit nie nodig was vir ekstra kleding nie. Ek klim dan onder die duvet in en vind 'n vrou wat met haar rug na my toe lê, in 'n vormlose sweetpak, aan die slaap en ek kom tot die gevolgtrekking dat seks buite die kwessie is.

Al wanneer bed aksie weer ter sprake gekom het, was die vroegoggend wanneer Karen miskien agter my blad lê en met haar een hand my op 'n rukkerige, onbeholpe wyse begin manipuleer sodat ek moet styf word. Dit is dan die eerste, nie besondere romantiese, teken dat sy wakker en jags was. Die rede hoekom hierdie aksie ook nie besonder goed vir my gewerk het nie, behalwe dat ek wel fisies gereageer het, was dat ek dit weereens beskou het as 'n verdere voorbeeld van Karen se vasberadenheid om seker te maak dat sy bedien word soos sy bedien wil wees, onafgesien van my gevoelens daaroor. Dit is seker te verstaan dat onder hierdie omstandighede daar 'n redelike mate van seksuele disfunksie was. Op die ou einde het ek opgegee.

Omdat ek belangstelling verloor het in Karen as minnaar en in die verhouding, kon ek nie meer die wilskrag of romantiese teerheid opwek wat so noodsaaklik was vir my om te wil seks hê nie. Ek het gevoel soos Karen se dildo wat sy net wil gebruik wanneer sy dit nodig het.

By die laaste geleentheid waar daar nog 'n poging tot een of ander seksuele aktiwiteit was, het ek soos gewoonlik kom slaap lank nadat Karen alreeds in die bed was. Hierdie keer was sy nie aan die slaap nie en toe ek noodgedwonge oor haar moes klim om aan die oop kant van die bed te kom, het sy my skielik omhels en afgetrek na haar en vurig begin soen. Karen was steeds in die sweetpak gekleed. Die onverwagse aanslag, soos ek dit ervaar het, was so onsubtiel en sonder enige teerheid dat dit geen impak op my gemaak het nie. Selfs nie eers toe ons op ons sye gelê het en Karen haar knie tussen my bene ingedruk het en haar bekken teen myne begin beweeg het, kon ek 'n ereksie bewerkstellig nie. Ek wil nie oordryf en sê dat dit was soos om verkrag te word nie, maar ek het gevoel dat ek geen aandeel in die proses het nie, ek is maar net daar om diens te doen op aanvraag, of ek in die bui is of nie. En daar was, sover ek kon onthou, niks wat tydens die vroeëre gedeelte van die aand gebeur het, wat 'n aanduiding van die opbou van seksuele elektrisiteit was nie. Karen het gou agtergekom dat daar geen emosionele of fisiese reaksie van my kant was nie, het op haar ander sy gedraai en begin huil. Die emosionele verwydering tussen ons was so groot dat ek nie eers die moeite gedoen het om haar vas te hou of te paai nie. Inteendeel, ek het 'n ent weg gelê, op my kant van die bed, en haar verwens.

Dat Karen teen daardie tyd seksueel gefrustreer was, is nie te betwyfel nie. Ons het egter nie saamgewoon omdat sy werklik verlief was op my of my as haar ideale seksmaat gesien het nie en dus was daar nie 'n outomatiese seksuele aantrekkingskrag wat gewerk het onafgesien van die stand van die verhouding tussen ons nie. Ek het gevoel dat ek maar net 'n ekonomiese noodsaaklikheid was, en dat Karen seks gebruik het om my te laat intrek, en dat sy boonop bloot geïnteresseerd was in haar eie bevrediging en nie bereid was om enigiets in die besonder vir my te doen nie. Vir 'n vrou wat al heelwat seksmaats in haar jong lewe gehad het, was Karen na my smaak ietwat gebrekkig aan tegniek, veral wat wederkerigheid betref. Haar idee van goeie seks was min of meer om op haar rug te lê, of partykeer op my te sit, dikwels met die broekie steeds aan, en dan baie luide geluide van seksuele ekstase te maak, terwyl ek die moeite moet doen. Ek het die proses ervaar as harde, nie besonder bevredigende, werk en vinnig my entoesiasme daarvoor verloor. Veral omdat Karen geen moeite gedoen het om my goed te laat voel nie.

Ek moet ook beken dat my weerhouding van seksuele toenadering op die ou einde neergekom het op 'n passief-aggressiewe strategie in 'n ongelukkige verhouding waar ek vasgevang was met 'n vrou wat maksimum aandag geverg het en minimum teruggegee het. As blote huismaats het ons goed saamgewerk en saamgeleef, en Karen het nie omgegee om te kook of aan die kant te maak nie – dit was ieder geval haar en River se gemors – maar op die langtermyn was dit nie goed genoeg as daar nie ook 'n romantiese vlam was nie. Sonder die vlam, sonder wedersydse liefde en tederheid, het ek ingehok gevoel in 'n situasie waar ek bloot 'n nutsobjek was. Die man met die beursie, die man wat met gemak luiers kon omruil en geweet het hoe om 'n woelwater te vermaak en aan die slaap te kry, die man wat 'n buffer moet wees tussen Karen en Darryl, River se pa, op daardie dae waar Karen vies was vir Darryl, die man wat na al Karen se lewensklagtes en sorge moet luister sonder dat hy ooit 'n kans gegee word om enige sorge van sy eie op te haal, die man wat altyd daar moet wees, beide fisies en psigologies, vir iemand wat nooit daar kan wees vir hom nie en, les bes, die man wat nie eers die musiek van sy eie keuse mag speel in sy eie woning nie.

Voordat ek dit nie self ervaar het nie, sou ek nooit kon dink dat 'n stuk musiek, of 'n album, so nou gebonde kon wees aan 'n tydperk dat die blote onaangename herinnering van die tyd my daarvan sou weerhou om na iets te luister wat in die normale loop van sake my gunsteling soort van musiek is. Ek moes waarskynlik die Maria McKee album vir Karen gelos het toe ons uitmekaar is, dan sou dit nie so 'n gruwelike grafsteen vir 'n romantiese dwaasheid gewees het nie, maar dit was my CD en nadat ek so baie geld op haar spandeer het, was ek nie van plan om nog iets op te gee nie. In elk geval, Karen het The Doors se American Prayer album gehou, die een wat ek in George vir haar gekoop het op haar aandrang, en waarna sy omtrent nooit geluister het nie, en die Mozart en Beethoven "grootste treffers" CDs. As ek reg onthou, het ek ook vir laasgenoemdes betaal. Karen het die koopprys by my "geleen" en, soos gewoonlik, gerieflik vergeet om dit terug te betaal.

Karen het my net een enkele geskenk gegee in die hele tyd wat ons bevriend was. 'n Paar weke voor Kersfees 1992 het sy een Saterdagmiddag by my woonstel opgedaag – ek neem aan dat ons waarskynlik iewers heen sou gaan – en sy het ewe ongeërg 'n grootste treffers CD van The Kinks op die tafel neergesit en gesê dat dit myne is. Dit was nie toegedraai soos 'n Kersgeskenk nie. Dit was vir my 'n onverklaarde raaisel hoekom Karen hierdie CD gekies het. Moontlik was dit 'n kombinasie van lae prys en een of twee liedjies waarvan sy gehou het.


 


 


 


 


 


 


 

No comments: