Hierdie kêrel De Soto de Witt is 'n man wat hom nie graag blootstel aan openbare bespotting nie en wat daarvan hou om sy privaatlewe privaat te hou, alhoewel hy nie omgee om so elke nou en dan uiting te gee aan sy emosies nie. Hoekom het hy op 'n natterige en koue dag verlede maand langs die Setlaarsweg gestaan met 'n plakkaat in sy hande waarop daar in groot, vet swart letters gedruk was: SAY NO TO POLICE BRUTALITY.
Hy het daar bly staan vir 'n volle uur terwyl die spitstyd verkeer verbygekruip het en terwyl die motoriste en hut passasiers dikwels onsmaaklikhede kwytgeraak het oor De Soto se manlikheid en verstandelike vermoëns. Sommige het selfs dreigemente van fisiese geweld geuiter en ten minste een vrou het die hulp van God ingeroep om De Soto met 'n bliksemstraal te straf.
Ek het by die De Witt huishouding gaan kuier om agter die storie van hierdie storie te kom.
Die onderwerp van ons belangstelling woon in Observatory, Kaapstad, in 'n huis wat ruim is, maar definitief 'n kandidaat is vir wesenlike renovasie pogings. De Soto het verduidelik dat hy bitter graag die nodige werk sou wou doen of laat doen, maar hyself is nie 'n man wie se hande vir niks verkeerd staan nie en ongelukkig het hy ook nie die geld om 'n bouer aan te stel nie.
"Die bouwerk sal moet wag totdat die Zen Calviniste ryk en beroemd is, of totdat my ma sterf," sê hy met 'n ironiese vonkeling in sy oë.
Natuurlik woon by nie alleen in hierdie huis nie. Sy metgesellin, 'n Joodse meisie genaamd Yvonne, deel 'n slaapkamer met hom en dan is daar ook nog in paar katte en Yvonne se Toy Pom, Mottie. Af en toe bied die De Soto-huishouding ook herberg aan mense soos Tsafendas Jordaan, mede lid van die Zen Calviniste, Vusi Mafenuka, 'n AZAP0 aktivis uit Crossroads, of Katie Abrahams, 'n bergie dame vat somtyds net inval by die huis, haar tuismaak vir 'n week of wat en dan weer verdwyn vir 'n paar maande of 'n jaar.
"Ek smaak ou Katie," sê De Soto. "Ek like haar verskriklik, 'n Sin vir humor. En al daai stories wat sy kan vertel, 'n heerlike karakter, eg-Kaaps. En sy is min moeite, hoor. Sy slaap onder een van die struike in die agterplaas en leef op witbrood en meths. Eintlik een van die beste gaste wat ons hier het."
Yvonne is 'n vietse dame met die klassieke Joodse skoonheid wat net in Fresnaye gekweek word. Ofskoon sy seker al moeg is om te verduidelik hoe sy, Seepunt kugel extra-ordinaire, nou eintlik verlief geraak het op 'n Swellendamse boerseun, was sy steeds bereid om die storie aan my oor te dra. Dit blyk dat hulle ontmoet het in die Indaba klub, nou reeds saliger, toe sy op die daktuin rondgedwaal het op soek na 'n Camel Plain en sy hom in 'n hoekie sien sit het. Hy was, soos gewoonlik, besig om te skryf en hy het toevallig 'n pakkie Camel sigarette by hom gehad. 'n Gesprek het ontstaan, en binne twee weke het sy by hom ingetrek.
Dit is duidelik dat hulle albei nog verlief is op mekaar. Dit is juis hierdie wedersydse liefde en gepaardgaande ondersteuning wat die oorsaak was vir De Soto se Setlaarsweg protes.
"Yvonne is 'n aktiewe en entoesiastiese lid van die Black Sash," verduidelik De Soto, "en die Black Sash doen elke nou en dan een van hierdie 'stands,' Hulle wit protesteer, 'n stem laat hoor, jy weet, darem wys dot daar nog mense is wat nie bang is om hulle opposisie teen regeringsbeleid en onderdrukkingsaksies te toon nie. omdat die noodtoestand en alles wat daarmee saamgaan, politieke vergaderings en openbare protes verbied, en omdat omtrent enige groepie van meer as een persoon wat 'n politieke stelling wit maak as 'n onwettige byeenkoms bestempel word, moet die Black Sash dames, as hulle openbare protes wit hou, so een-een staan langs die pad. Natuurlik staan so vyf of ses langs dieselfde pad, hulle maak beurte, een uur op 'n slag. So: hulle protesteer en hulle kan nie gearresteer word weens 'n onwettige byeenkoms nie. Slim, nê? Anyway, op daardie dag moes Yvonne in 'stand' gaan doen, maar sy het siek geword en toe in plaas van om 'n ander vrou te kry om in haar plek te staan, het ons gedink, wat de hel, ons is mos saam in die ding, saam in die land, ly onder dieselfde regime en het dieselfde verpligtinge teenoor die onderdrukte massas, as witmense, jy weet. Toe besluit ons ek sal haar plek volstaan -- as jy die woordspeling sal vergeef -- en toe gaan staan ek daar."
Was dit nie baie koud en nat nie, en was die motoriste nie onbeskof nie, selfs dreigend?
"Wel, dit was net vir 'n uur. Ek het my anorak aangehad, niks nat geword nie en warm gebly. En wat die motoriste betref: niemand het uit 'n kar geklim en nader gekom nie. Skreeuery maak niks, dit is eintlik half amusant gewees. En in elk geval moet 'n mens in gedagte hou dat dit vir in goeie saak is. Die bietjie ontbering weeg nie juis op teen wat deesdae in die townships gebeur nie. Police brutality, jy weet."
Ons sit buite op die patio. Terwyl ons gesels, bak Yvonne 'n sjokoladekoek vir die namiddag koffie. De Soto dra sy welbekende blou jeans en The Children Shall Be Free! T-hemp. Een van die katte is opgekrul op sy skoot en die ander een lê so 'n entjie van ons af, uitgestrek in 'n kolletjie sonlig. In die voorkamer speel die musiek van Bob Marley op 'n Technics kassetspeler, die enigste teken van yuppie aspirasies.
"Ek's nie 'n ou vir flashy high-tech goed nie," sê De Soto, geamuseerd dat ek in sulke onbenullige aspekte van sy bestaan belangstel, "maar by klank wit ek die beste hê wat ek kan bekostig. Die speakers is 'n stel B & W speakers wat 'n ou pal van my afgebring het van Jo'burg af in '84."
Het jy 'n sterk belangstelling in Reggae? vra ek. Dit is nie meer in modieuse musiek nie.
"Ag, ek het 'n paar albums. Ja, ek weet die fad het verbygetrek, maar dit was gister die herdenking van Bob Marley se dood, toe dog ek 'n man moet maar hulde bring op 'n manier. Net om te wys dat modes kom en gaan, maar so 'n ou se musiek bly classic."
De Soto de Witt is lank reeds bekend vir sy humanisme en nederigheid. Hy is 'n goeie voorbeeld van die tipe mens wat sy talente benut so goed as wat hy kan, nie 'n grootkop ontwikkel nie en altyd in aanraking bly met sy eie menswees en die menslikheid van andere. Hy is 'n digter, romanskrywer en musikant, dog is skaam om oor hierdie aspekte van sy lewe te praat, asof hy bang is om sy gespreksgenoot te verveel.
Jy is 'n Swellendammer, nê?
"Daar grootgeword, ja. Gebore in Kimberley, maar nooit daar gebly nie. Swellendam is al wat ek ken uit my jeugjare."
Stellenbosch?
"Universiteitsjare. B. Com. Drie jaar van studie en wilde tye, meestal wilde tye. Wild Oats, jy weet!"
En nou?
"Old Mutual. Ek verkoop versekering, kan jy maar sê. Maar nou nie eintlik werklik nie, meer 'n konsultant in die ware sin van die woord. As ek regtig assuransiepolisse verkoop het, het ek seker meet geld gemaak. Maar dis 'n job."
Die digter, skrywer, musikant?
"My pa het kitaar gespeel in 'n boeremusiek orkes in die Swellendam omgewing. Huwelike, naweekdanse, verjaardagpartytjies, die gewone. My ma het klavier gespeel. So, ek het 'n keuse gehad en ek het kitaar gekies. Die band was hale meer opwindend vir my as jong lat. So, my pa het my touwys gemaak en ek het ook maar so op my eie aangesnork. Speel vandag nog nie juis te wonderlik nie. Gangbaar."
Waar kom die literêre belangstelling vandaan?
"My ma het ons kinders altyd aangemoedig om te lees. Ek het baie gelees. Nie eintlik vriende gehad nie, baie verbeeldingsspeletjies gespeel, stories opgemaak. Later begin skryf, sommer net storietjies, toe gediggies. En as 'n mens lank genoeg bly skryf, raak jy mettertyd beter, taalbeheersing en al daai, en soos jy ouer word, raak jou insigte meer volwasse."
Wanneer het jy begin publiseer?
"Op Stellenbosch. Ek het tot Afrikaans Nederlands III gevorder, by die poetry workshop beland, kennis gemaak met die mense wat tel in die geslote kring van Matieland se literêre dampkring, die mense wat jou kan boost of breek. Daai jare gedomineer deur dykes en moffies. Meer dykes. So, 'n man moes maar talentvol wees en taktvol in jou opinies oor seksualiteit -- jy kon nie juis jou pad oopslaap nie. Die meisies miskien en sommige van my manlike kollegas wel, maar nie 'n hetero soos ek nie. Toe besluit ek dit sal maar die beste wees om net eenvoudig goed te wees. Quality sells. Anyway, daar was Penseel en ook 'n blaadjie wat begin is deur Karina Hugo, Boosheid was die naam daarvan. ondergronds en links. Het alles en almal gekritiseer, dit wit nou sê daardie mense wat nie deel was van die groepie nie. Ek het ook in Stet gepubliseer. Ag, oral, almal wat bereid was om 'n gedig te plaas."
En jou prosa?
"Dieselfde tipe storie. As 'n mens genoeg sade saai, moet een of twee iewers opkom."
Jy is bekend daarvoor dat jy orals op allerhande plekke en by allerhande geleenthede sit en skryf.
"Ja, miskien is dit 'n slegte gewoonte. Mense raak vies partykeer as ek in die geselskap skielik my notaboek uitruk en begin skryf. Soms dink hulle ek skryf af wat hulle sê. Mense wat my nie ken nie dink ek is 'n spy of iets. Maar as die idees kom, wil ek hulle neerskryf, vars uit die oond. Meestal net frases, 'n sin of wat, maar soms hele gedigte of groot gedeeltes van stories."
Daar is die digbundels Paradigma van Paranoia en Waansin Kom Te Laat en die roman Die Nuwe Hebsug. Alles binne 'n bestek van vyf jaar. Voel jy trots dat jou uitgewer soveel vertroue in jou stel?
" 'n Mens is dankbaar as die goed gepubliseer word. After all, wat is 'n skrywer as hy nie publiseer nie? 'n 0u wat in kafees rondsit en sanik oor sy work in progress en bitch oor die onnosel uitgewers wat nie sy genialiteit kan of wil herken nie. Nee, ek is bly my naam is in die markplek, die publiek weet van my. Dis 'n lekker gevoel alhoewel ek nou nie op partytjies gaan staan en my bek rek daaroor nie."
Veral jou eerste bundel was baie kontroversieel: vol politiek en seks. Daar was sprake dat dit verban sou word. Hoe het dit jou geaffekteer?
"Comme ci comme ca. Ek skryf wat ek wil skryf, ek lewer my beste. Die uitgewer het vertroue gehad daarin. So, as iemand dit onsmaaklik of uitdagend gevind het, tough luck. Selfsensuur is uit die bose. Ek wou 'n statement maak en ek het."
Wat wou jy sê?
"Afrikaans word al jare lank bestempel as die onderdrukkerstaal, omtrent die enigste taal ter wêreld wat so bekend staan. Anyway, so daar was al baie teenstand teen die taal, veral onder die anderskleuriges, die Swart massas. Alhoewel, snaaks genoeg, hier in Kaapstad, op die Cape Flats, is daar 'n, as jy dit so wil stel, skool van skrywers, digters, dramaturge, en so aan, wat doelbewus in Afrikaans skryf, as soort van 'n bevrydingstong, dit wil nou sê die Afrikaans wat Cape Flats spreektaal is, nie AB Afrikaans soos ek en jy dit ken nie. Hierdie skrywers vind dit goed m hulself in hut moedertaal uit te druk en om ook hut eie mense te bereik. So, toe dink ek hieroor, by 'n paar skrywersberade so gesit en luister, en toe tot die konklusie gekom dat ek ook myself polities kan uitdruk in my moedertaal en my mense bereik sonder om te skroom, sonder om doekies om te draai, sonder om in die gewone slaggate van Afrikaner denke te vat. My tesis is dat 'n mens die taal 'Afrikaans' moet verwyder uit die knelgreep van die volk 'Afrikaner."
omdat 'n groot persentasie Bruinmense Afrikaans praat as voertaal?
"Ja, presies. Een van die groot geforseerde mites van ons tyd, geskep deur 'n sekere groepie Afrikaner intellektuele, die soort wat getipeer kan word as bleeding heart liberals as jy hulle wil slegsê, en ek sou dink hulle moet maar sleggesê word, die mense wil nou gehad het dat alle Afrikaanssprekendes, of dan seker eintlik net die Bruin Afrikaanssprekendes, onder die begrip 'Afrikaner' ingedefinieer moet word. Die sogenaamde 'Bruin Afrikaners.' Let op hoe selfs hulle nie kan wegbeweeg van 'n rasse- en velkleur beheptheid nie, Maar my punt is dat ons moet vergeet van hierdie mites. Afrikaans as taal moet op sy eie staan, los van Afrikanerskap, waarvan die taal maar een komponent is. Sedert omtrent die ontstaan van die begrip Afrikaner het daardie begrip se politieke, godsdienstige, morele en sosiologiese inhoud die taal heeltemal oorskadu. Dis hoekom Afrikaans die onderdrukkerstaal geword het. Ek sê ek kan in Afrikaans skryf, enigiemand kan in Afrikaans skryf, sonder om myself as Afrikaner voor te hou, sonder dat die publiek my moet sien as 'n Afrikaner-skrywer. Ek is 'n skrywer. Ek skryf in Afrikaans. Dis al."
Soos die toeval dit wou hê, het De Soto skaars hierdie woorde uitdagend tot die wêreld daar buite gerig, toer Yvonne met 'n varsgebakte koek en koffie by ons kom aansluit. Die gebak ruik en smaak heerlik.
"I guess at heart I'm just an old fashioned Jewish mother," glimlag Yvonne as ek haar komplimenteer. Sy luister so 'n rukkie na die gesprek tussen my en De Soto, maar verkies om niks by te voeg nie en raak in elk geval klaarblyklik verveeld en gaan weer die huis binne. Dit is seker nie die eerste keer nie wat sy hierdie filosofiese uitings aanhoor.
En die eksplisiete seks?
"Dis 'n belangrike deel van my bestaan. Ek geniet seks, ek het seks soveel as vat ek kan. Anyway, omdat dit so integraal is, skryf ek daaroor, dis ook deel van 'n liefhêproses. Onvermydelik raak 'n mens nouer gebonde tot die objek van jou wellus as jy ook van die persoon as mens hou. So, ek skryf daaroor en ek wil onbevange wees as ek daaroor skryf, wat ek voel, hoe ek voel. Daar was ook hier altyd 'n tipe taboe dat 'n mens in Afrikaans maar beskaaf moet wees, verkieslik kuis, maar as jy na seks wil verwys, meet dit verkieslik skalks wees, versluierde, slim metafore en woordspeletjies uitdink, Moet net nie direk wees nie. Moenie die ou tannies en dominees afskrik nie. Ek het nie tyd vir daai benadering nie. Die woorde, frases, uitdrukkings wat ek gebruik, kom in Afrikaans voor. Hulle is deel van ons taal, hetsy die Afrikaanssprekende witmense van die platteland of stad of die Bruin sprekers op die Cape Flats. Die taal bestaan, die inhoud is daar. Hoekom moet ek dit verswyg? Maak of dit nie bestaan nie of, nog erger, voorgee dat dit so derderangs is en onsmaaklik is dat dit nie op skrif gestel mag word nie?"
Paradigma het groot kontroversie ontketen. Dominees, vroueverenigings, literatore, politici, almal het iets te sê gehad. Meestal afkeurend.
"3a, daar was nogal ernstige pogings gewees om die bundel te verbied. Al redding was, dink ek, dat daar nie ook Godslastering by te sleep was nie. As daar soiets was, sou die Publikasieraad seker sonder twyfel iets gedoen het. Maar nou ja, dit is nie verban nie en die moleste het nie die verkope skade gedoen nie. En natuurlik het dit my 'n openbare figuur gemaak. Household name, jy weet."
Dit klink vir my soos 'n uitdrukking van sinisme.
"Jy weet, die literary fame game in hierdie landjie is maar 'n ou klein speletjie. Die mense lees Wilbur Smith, nie literatuur nie. Digbundels is net amusant vir bestudering ten tye van Afrikaans-Nederlands Honneurskursusse. Wie is bekende skrywers of digters in hierdie land? Brink? Kennis Van Die Aand. Verbied. Etienne le Roux? Magersfontein. Verbied. Breytenbach? Was in die tronk vir sabotasie of hoogverraad. So, die name is bekend, maar wie lees ooit die werk wat gepubliseer word? Paradigma het goed verkoop, Waansin het goeie resensies gehad en is seker 'n bietjie aangehelp deur Paradigma se berugtheid, Hebsug sukkel maar. Niemand het daarvan gehou nie, ek dink die uitgewers het vyf honderd boeke verkoop. Nog nie veel geld gesien nie. Ek verstaan daar is buitelandse belangstelling, Nederland, België. Seker omdat die boek nie vertaal hoef te word nie."
Dis bemoedigend, 'n buitelandse deurbraak. Hoe affekteer negatiewe resensies jou?
"Dit maak my kwaad. Volgende vraag."
Die sonnetjie het intussen uit die agterplaas verdwyn en die tipiese Observatory koue windjie is te koud om in skadu getrotseer te word. Ons gaan sit in die sitkamer waar die Bob Marley musiek plek genaak het vir Tracy Chapman, Dit is Yvonne se keuse, haar gunsteling plaat van die jaar. Voordat ek gaan sit om die gesprek verder te voer, maak ek 'n vinnige draai by die boekrak. Hegel, Nietsche, Bertrand Russell, Dostoevsky, Proust, Chandler, Theatre of the Absurd, Philosophy of Language, Tom Robbins, Pynchon, Le Toit, Hambidge. En vele meer. Geen deurlopende tema nie.
"My belangstellingsveld is te wyd om te sistematies te wees," verduidelik De Soto. "Ek lees waarvoor ek lus voel op daai oomblik, Hierdie is net 'n deel van my boekery. Die res is in my slaapkamer, by my ma se huis en versprei onder 'n paar vriende. Ek gaan my biblioteek aan my volk bemaak. Die De Soto de Witt Biblioteek. 'n 0u Kaaps-Hollandse huis op Stellenbosch."
Jy het sterk idees oor Afrikaans se rol as taal. Wat is jou houding oor jou Afrikanerskap?
"Ek is nie 'n Afrikaner nie."
Jy is gebore as kind van Afrikaner ouers, jy het in 'n Afrikaner gemeenskap groot geword, is opgevoed in Afrikaner akademiese instansies. Ensovoorts. Hoe kan jy volhou dat jy nie 'n Afrikaner is nie?
"Al wat ek en die standaard Afrikaner in gemeen het, is dat ons albei Afrikaans goed kan praat. Ek het die hele res van die komponente van Afrikanerskap afgesweer, verwerp, uit my sisteem uitgekry. Ek weier om aan 'n groep te behoort omdat ander mense vir my sê ek behoort aan die groep, of omdat ek kwansuis in die groep ingebore is. Ek is vry om my eie groep te kies, as ek aan 'n groep sou wou behoort. Maar eintlik wil ek nie aan 'n groep behoort nie. Ek is 'n individualis. Ek assosieer op vrywillige grondslag met ander mense, ek is onafhanklik, ek is my eie man. Ek weier om 'n Afrikaner te wees. Ek weier om die stigma te dra. Afrikaners is eng, Calvinisties, rassisties, onverdraagsaam, onvolwasse, gewoond aan niks, Xenophobies, kleinlik, ag, noem wat jy wil. Afrikaners het min goeie eienskappe en selfs die wat hulle het word eintlik net geopenbaar teenoor die volkseie. As jy nie deel is van die groep nie het hulle nie tyd vir jou nie. Die Afrikaner ly nog al die jare aan 'n minderwaardigheidskompleks. Selfs na 1948. Nou nog. Die Afrikaner as volk moet in analysis wees."
'n Sterk, maar baie kontroversiële, opinie.
"Ek mag verkeerd wees oor die Afrikaner. Ek mag verkeerd wees. Al wat ek sê, is dat ek nie ingedwing wil wees in 'n groepering bloot vanweë 'n geboorte toeval nie. Ek sal kies waar ek staan."
Sal jy ooit in 'n ander taal skryf, byvoorbeeld Engels?
"Miskien. Ek is tweetalig, ek het al so 'n bietjie in Engels geskryf. Maar op hierdie tydstip dink ek dat Afrikaans meer treffend is as 'n medium, 0m te sê wat ek sê kan ook in Engels gedoen word, maar dit het meer trefkrag in Afrikaans, Ons sal binnekort kniediep in die derde Afrikaanse taalstryd wees en ek wit deel wees daarvan. Verkieslik iewers naby aan die voorpunt."
'n Derde taalstryd? Wat sal die oogmerke van 'n derde taalstryd wees?
"Bevryding van die taal, eens en vir altyd. Dit moet weggeruk word uit die greep van die Afrikaner establishment, die FAK, die Broederbond, Nasionale Pers. Die taal moet gestroop word van sy volkskonnotasies. Afrikaans en Afrikanerskap moet van mekaar onderskei word, van mekaar verwyder word. Soos wat ek jou voorheen gesê het, dis nie net witmense wat Afrikaans skryf of lees nie. Gepaard met hierdie ontkoppeling, ek sou dit 'n destigmatisering noem, moet ons poog om die taal te omskep in 'n internasionale instrument, ons moet dinge sê wat nog nie voorheen gesê is nie, en nie net politieke dinge nie, maar ook net eenvoudig weergawes van hoe dit werklik is om in Suid-Afrika te leef. Deesdae is dit omtrent net township-literatuur wat enigsins poog om selfs op hut propagandistiese manier 'n realiteit uit te beeld. Ek wil die realiteit van wit bestaan uitbeeld. Ek wil toon hoe dit is as witmens met 'n nie-rassistiese lewensuitkyk, om hier te leef."
Ek kan jou net sterkte toewens. Dit klank na 'n groot taak. Die derde taalstryd is 'n baie interessante konsep. Dalk kan jy wel die segsman van 'n nuwe generasie word: Die Geslag van Negentig.
"Ek hoop dit gaan nie so uitdraai nie. Dit klink te veel na net nog 'n Afrikaner literêre beweging."
Hoe pas jou musiek bedrywighede in met jou skrywerslewe?
"Dit is nog in die beginstadium, ons rehearse nog die songs, maar my band hoop om binnekort deel te wees van die nuwe Afrikaanse rock beweging. Lekker dinge is besig om te gebeur, die vibes raak reg."
Wat is die groep se naam?
'"Deesdae noem ons dit die Zen Calviniste. Tot laasjaar was dit die Zen Psychedelic Calvinist Band. Omdat tye verander en omdat ons onsself op 'n nuwe terrein begeef, het ons gevoel om die naam te verkort en te verafrikaans. Al die lirieke is in Afrikaans."
Dis nog 'n interessante wending. Is daar 'n nuwe gees onder musikante, dat dit nou aanvaarbaar is om rock musiek te speel en Afrikaans te sing?
"Ja, daar is 'n nuwe gees, Dit hang saam met die hele Nuwe Afrikaner sindroom en ook die idee dat daar wel lede van die onderdrukte massas is wat ook Afrikaans kan praat. Daar is 'n hele klomp mense wat as 'n soort van anti-hip hip statement wil sê dat dit cool is om in Afrikaans te sing. Die storie kom al 'n rukkie aan, meestal onder Engelssprekendes wat noue kontak met Afrikaners gehad het iewers in hut verlede, soos byvoorbeeld James Phillips, die hele Oos-Rand myndorp ding, of onder Afrikaanssprekendes in bands wat eintlik net Engels gesing het. 0p 'n tyd het omtrent elke hip band, of wat gedink het hy is hip, een of twee Afrikaanse liedjies in die repertoire gehad. Nou is dit tyd dat ons bands het wat net in Afrikaans sing en gatskop met rock'n'roll."
FINIS
No comments:
Post a Comment